'n Brief van Heleen van Staden - 'n Moeder van Suid-Afrika
2004
Beste Lodie en Bella
Dit is met ontsaglike trots in my hart wat ek vandag aan julle skryf. Ek het die 28ste vir Annelize afgesien op Johannesburg Internasionale Lughawe vir haar tweede besoek aan Duitsland binne twee jaar. Gister het ek haar Matriek-uitslae by die skool gaan haal en daar pryk toe 'n wonderlike A vir Duits!
Annelize het van Laerskool af gedroom om eendag oorsee te kan gaan. In haar Gr. 10 jaar bel sy my en vertel my van 'n brief wat van die FSA Youth Exchange by die skool aangekom het wat haar die geleentheid gee om aan 'n Kulturele Uitruilprogram tussen Suid-Afrika en Duitsland deel te neem. Ek het dadelik ingestem maar in die stilligheid gehoop dat sy nie die evaluering sal slaag nie want hoe kan ek my 15 jarige dogter, my enigste kind, wegstuur na 'n vreemde land met vreemde mense, 'n vreemde taal, vreemde kultuur, vreemde weer en alles wat vreemd is. (Hoe gaan ek dit maak sonder my kind vir 3 maande?)
Intussen het ons besluit om ook 'n student vanaf Duitsland te huisves. Met 'n oop gemoed ontvang ons vir Kristina op die Lughawe. Wat 'n wondelike tyd het ons nie gehad nie!!! As jy voorbereid is op die onbekende maak dit alles net soveel makliker. Jy besef dat hierdie kinders uit Duitsland in wese dieselfde ideale, onsekerhede en vrese koester as ons eie Suid-Afrikaanse kinders.
Annelize slaag die evaluering en kort voor lank tref ons reelings vir haar om te gaan. Groot trane rol op die Lughawe en ek tel die maande, weke en dae af totdat sy terugkom. Annelize kuier vir 'n week by Kristina en haar familie in die tyd wat sy daar was vir die drie maande skoolprogram. Vriendskapsbande word weereens getemper. Kersfees word in die vreemde gevier saam met 'n gasfamilie met wie sy intussen noue bande gesmee het.
Wat 'n wonderlike gevoel toe sy veilig tuiskom. Onmiddelik besef ek as moeder watter volwassenheid by my kind ingetree het. Sy was vir 3 maande op „die Universiteit van die Lewe" en het met vliëende vaandels geslaag. Dit het 'n direkte positiewe invloed gehad aan die ywer waarmee sy Gr 11 & 12 aangepak het. Ek moedig graag my vriende en familie aan om ook hulle kinders op hierdie kulturele uitruilprogram te stuur en ook as Gasgesinne op te tree vir studente uit Duitsland. Die blootstelling aan ander kulture help sodat ons nie ons kinders in kokonne grootmaak nie.
Ek besef vandag dat my vrese ongegrond was. Dit was my vrese, nie Annelize se vrese nie. Ons kinders is sterk genoeg om al die stampe en stote van die lewe te kan hanteer. Deur geleenthede soos wat deur die FSA Youth Exchange vir ons Suid-Afrikaanse kinders geskep word, van gebruik te maak, slyp ons hulle en lê ons vaste fondamente vir hulle toekoms. Dankie vir julle wonderlike werk.
Lank lewe die FSA Youth Exchange (Friends of South Africa) !!!
Liefde groete
Heleen van Staden
KLIEK hier vir terugvoer van vorige Duitse deelnemers
Terug na Afrikaanse tuisblad